LEON JACOBS

Media24 se iPad-dagblaaie

Added on by Leon Jacobs.

'n Week of wat gelede het ek begin om Media24 se nuwe iPad uitgawes van hulle Afrikaanse dagblaaie te probeer. Ek het losgetrek met die 30-dae gratis aanbod wat jou in staat stel om óf Die Burger, Beeld of Die Volksblad te toets voor jy inteken. Die normale subskripsie is $3.99 per maand.

[Die Burger op iTunes]

Ek is al 'n geruime tyd 'n intekenaar op The Guardian se iPad uitgawe, maar wil graag my nuus ook in Afrikaans kan lees - veral plaaslike nuus in en om Kaapstad.

In hierdie periode het ek tot die volgende gevolgtrekkinge gekom:

'n iPad-koerant is iets anders as 'n aanlyn nuusdiens

Met 'n aanlyn koerant is mens in 'n soort grenslose virtuale omgewing waar die jongste nuus heeltyd voor jou is. Daar is argief en soek-geriewe, maar oor die algemeen dip mens in en uit om die jongste - en veral - brekende nuusgebeure dop te hou.

Om 'n dagblad te lees is iets anders. Die naam self sê dit vir jou. Jy kry die dag se nuus en analise in een handige pakket. 'n iPad-dagblad behoort jou dieselfde ervaring te gee. Jy wil voel jy kry die dag se nuus. Ek wil amper dieselfde vloei voel wanneer ek my iPad koerant lees, om hom van links na regs te lees. Van voor tot agter. Die Guardian se iPad app kry dit baie goed reg. Die dag se iPad-uitgawe is 'n spieëlbeeld van die dag se papierkoerant - behalwe dit bevat skakels, videos en klank - wat die lees-ervaring verryk.

Met Media24 se weergawe, is mens in 'n soort bodemlose put van nuus. Die artikels is wel gelaai in dieselfde kategorieë as die papier-weergawe, maar ek mens weet nooit of jy die jongste nuus lees nie.

The Guardian se outomatiese aflaaier, besig om die dag se koerant in te bring.

The Guardian se outomatiese aflaaier, besig om die dag se koerant in te bring.

Dit is veral 'n belangrike punt vir pendelaars. As ek in die oggend my iPad gryp oppad lughawe toe, deur die hek en op die vliegtuig, dan wil ek weet dat my koerant deur die loop van die vroeg-oggend afgelaai het op my toestel en nou ook in 'n af-lyn formaat beskikbaar is. Die Guardian doen dit omdat in Newstand beskikbaar is, terwyl Media24 se koerante losstaande apps is wat blykbaar nie dieselfde outomatiese opdatering funksionaliteit het nie.) Dit is dus heel waarskynlik dat ek die app sal oopmaak terwyl die vliegtuig se deure toe is en dat ek nie my jongste nuus het nie.

Die Burger-app "Besig om artikels te herlaai"

Die Burger-app "Besig om artikels te herlaai"

Navigasie

Die Guardian se app volg die op/af, links/regs konvensie. Jy swiep links en regs van artikel na artikel, en op en af om dieper in die artikel te lees - in 'n enkel-kolom. Met Media24 se app, swiep jy heeltyd in 'n horisontale rigting. Dit vat nogal iets om gewoond te raak aan. Die teks is ook in kolomme opgedeel en soms is daar vreemdhede, soos byvoorbeeld 'n artikel wat eindig op 'n skoon bladsy, met net een paragraaf van 'n paar lyne.

Gehalte

Die tegniese aspekte van Media24 se app lyk geel goed deurgedink. Die tipografie en visuele materiaal vertoon goed, hoewel die een video wat ek probeer kyk het nooit gelaai het nie. 

Die teks bevat ook baie meer tikflaters as wat sou verwag van 'n produk wat deur 'n sub-redakteur se hande is. Veral een waarvoor die $3.99 per maand voor betaal.

Advertensies

Die Guardian se iPad-koerant bevat geen reklame nie. Dit is well ook amper drie keer duurder. Media24 se iPad-koerant het hier en daar 'n bladsy met reklame, hoewel op die stadium voel dit meer soos borgskap materiaal en vloei dit goed saam met die koerant se inhoud.

Dus

Dis 'n lekker idee om te dink ek kan my dagblad in Afrikaans op my tablet lees, maar ek dink Media24 moet daaraan dink om hulle apps meer soos dagblaaie voor te stel. Sit alles in een pakket, in Newsstand, wat outomaties afgelaai kan word.

Op hierdie stadium dink ek nie die produk is die geld werd nie. Met bietjie verdere skaafwerk kan dit wel 'n opsie word.